Net 3-jarige dogtertjie, Brasiliaanse bestuurder oorleef Otavi-ongeluk

Die nege slagoffers van die gru-ongeluk tussen ‘n Toyota Fortuner en ‘n sewe-sitplek voertuig 20km buite Otavi op die B1 pad na Otjiwarongo is deur familielede uitgeken. Net ‘n drie-jarige Namibiese dogtertjie in die sewe-sitplek en die Brasiliaanse bestuurder van die Fortuner het oorleef. Sy is is in ‘n kritieke toestand in ‘n privaat hospitaal in Windhoek. ‘n 13-jarige meisie en ‘n 2-jarige seuntjie is ook onder die sterfgevalle. Die 55-jarige Natale Ferreira Gontijo De Amorim van Brasilië is in die Fortuner dood. Sy en die bestuurder, die 59-jarige Luiz Charles Araujo De Sa, was toeriste in Namibië. Araujo De Sa het na bewering ‘n ander voertuig verbygesteek toe die kop-aan-kop botsing plaasgevind het. Hy het in die Otjiwarongo-landdroshof verskyn op klagte van strafbare manslag, onbedagsame bestuur, en roekelose en nalatige bestuur. Die saak is uitgestel tot 27 Junie.