Nederlandse koning sal jammer sê vir slawerny

Koning Willem-Alexander sal na verwagting vandag ‘n koninklike verskoning aanbied vir Nederland se betrokkenheid by slawerny, op ‘n geleentheid wat 150 jaar herdenk vandat slawe uit voormalige kolonies vrygelaat is. Internasionale media berig duisende afstammelinge van slawe uit Suriname en die Karibbiese eilande van Aruba, Bonaire en Curacao sal die vierings in Amsterdam bywoon van “Keti Koti”, wat in Surinamees “breek die kettings” beteken. Slawerny is formeel in Suriname en ander Nederlandse kolonies afgeskaf op 1 Julie 1863, maar die praktyk is eintlik eers in 1873 laat vaar na ‘n “oorgangstydperk” van tien jaar. Die toespraak sal regstreeks op nasionale televisie uitgesaai word.