Navalny: Eerste sanksies teen tronkamptenare

Ses Russiese tronkbestuurders sal nie toegelaat word om na Brittanje te reis nie, en hulle bates in die land is bevries na die dood van die opposisieleier, Alexey Navalny. Hy is verlede week dood in ‘n Arktiese tronk, met die Verenigde Koninkryk wat die Russiese owerhede die skuld gee, insluitend president Vladimir Putin. Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Cameron, sê dié wat aanspreeklik was vir Navalny se wrede behandeling moet nie twyfel dat hulle verantwoordbaar gehou sal word nie. Amerika sal ook na verwagting môre sanksies teen Rusland aankondig.