Natalie Chipomho se ma weer van haar moord aangekla

Die moordverhoor van die twee Zimbabwiërs, Edward Nkata en sy vrou Caroline, is voor regter Claudia Claasen uitgestel na die staat te kenne gegee het dat die slagoffer, die nege-jarige Natalie Chipomho se ma, Rachel Kureva, weer in hegtenis geneem moet word. Die staatsadvokaat, Ethel Ndlovu sê die Nkata-egpaar se nou 14-jarige seun het verdoemende inligting oor Kureva voorsien wat haar by die moord impliseer. Kureva is gearresteer en het vlugtig in die landdroshof in Windhoek verskyn. Haar saak is tot 31 Januarie uitgestel terwyl die hoërhofsaak tot 28 Februarie uitgestel is. Die Nkata-egpaar word ook aangekla van poging tot moord op hul seun nadat hy ook in Januarie 2020, toe Natalie dood is, na bewering erg aangerand is deur sy ouers. Die saak het groot opslae gemaak na Natalie se half-verbrande liggaam in ‘n asdrom in Windhoek-Noord gevind is.