NamWater tjoepstil oor kurkdroog Berg Aukas-kanaal

Plaaslike berigte lui dat die boere teen die Berg Aukas-kanaal kurkdroog is as gevolg van ‘n tegniese probleem. Kosmos 94.1 Nuus poog reeds ‘n geruime tyd om kommentaar by NamWater oor die kanaal te kry maar, niemand by die watervoorsiener is beskikbaar nie en daar word verneem bedrywighede hervat eers komende Maandag. Dit is nie net die boere teen die kanaal wat staatmaak op die water nie maar ook die sentrale damme en dus, die sentrale gebied wat Windhoek, Okahandja en meer insluit. Die kanaal verskaf water na die Omatakodam wat dolleeg is. Die kanaal wat vanaf die Berg Aukas-myn, net noord van Grootfontein suid loop, vorm deel van die sentrale gebied se noodskema. Al word die probleem herstel, sal watervloei tot by Omatako ongeveer drie weke neem.