NamRa verkry miljoene in verskuldigde belasting van vismaatskappye

NamRa sê hy verskerp sy pogings om doelbewuste belastingontduiking in die visserye-bedryf te bekamp. Doelgerigte aksies is geneem om inkomstelekkasie in die sektor te stuit en te verseker dat oortreders aanspreeklik gehou word. NamRa sê die bedryf is al jare een van die laagste bydraers tot die nasionale fiskus. Dit is omdat fooie wat aan direkteure en ander lede betaal word, dikwels onverklaar en dus onbelas is. NamRa sê hy het tussen 1 Mei en 19 Julie administratiewe dagvaardings uitgereik en belastingaanslae oopgemaak om die belastingaanspreeklikheid te bepaal. Dit het gelei tot die verhaal van 20 miljoen Namibiese dollar van 14 vismaatskappye, wat met behulp van derde partye soos banke ingesamel is. Verdere ondersoeke fokus onder meer op die verkoop van visvangkwotas deur regtehouers, voordelige eienaarskap en transaksies rakende vaartuigeienaarskap en die uitvoer van produkte.