NamRA se grensposte nie op standaard nie
‘n Parlementêre staande komitee het kommer uitgespreek oor smokkelary en swak dienslewering by Namibië se grensposte. Vervalle infrastruktuur, swak behuising, en onvoldoende gesondheid en onderwysdienste is ook genoem is. Die Nasionale Raad se staande komitee oor openbare rekeninge en ekonomie het ‘n verslag ter tafel gelê na sy besoek aan die Namibië Inkomste-agentskap se doeanekantore in die Omaheke-, Karas-, Erongo- en Ohangwena-streke. Elektrisiteitsvoorsiening is veral kommerwekkend by die Trans-Kalahari-grenspos in Omaheke. Daar is ook kommer uitgespreek oor die voortdurende smokkel van voertuie met wanvoorstelling van fakture, sowel as sigarette, alkohol en brandstof by die grensposte.