Nampu veroordeel beweerde aanranding van vroulike joernalis

Die Namibiese mediawerkers vakbond, Nampu, is hoogs ontstoke oor die beweerde aanranding van ‘n vroulike radio-joernalis deur ‘n senior manlike koerantredakteur in Windhoek. Die vrou is na bewering met die vuis geslaan, haar arm is gedraai en van haar hare is tydens die voorval uitgetrek. Die waarnemende sekretaris-generaal van Nampu, Jemima Beukes, sê in ‘n verklaring die vakbond het al ernstige kommer oor geweld teen vroue in nuuskamers geopper en is geskok oor hierdie beweerde voorval. Nampu eis dat die oortreder voor die hof gebring word en die volle toorn van die wet in die gesig staar, volgens Beukes. Sy sê sulke optrede het nie ‘n plek in die samelewing nie, wat nog te sê in die mediabedryf, wat volgens haar as ‘n veilige en respekvolle ruimte vir alle professionele persone moet dien.