NamPower wek amper 70% minder krag op

Namibië se kragopwekkingsvermoë het vanjaar met amper 70 persent gedaal teenoor verlede jaar as gevolg van die lae vloei in die Kunene-rivier wat die Ruacana kragstasie se vermoë inperk. Ruacana se opwekkingsvermoë het in Julie vanjaar met 85,7 persent gedaal. Tydens die maand het onafhanklike produsente 54,4 persent van die totale plaaslike elektrisiteit in die land verskaf. In totaal het invoere van Suid-Afrika amper 51 persent van die plaaslike elektrisiteitsvraag voorsien. Ruacana het geen kapasiteit om elektrisiteit te stoor nie en die beplande Calueque-dam van 500 miljoen kubieke meter is laat in die 70’s op kort kennisgewing gekanselleer nadat Swapo as amptelike bevryders van Namibië deur die VN erken is en die Suid-Afrikaners onmiddellik Angola moes verlaat.