NamPol vra Windhoekers se samewerking teen misdaad

Die Namibiese Polisiemag in die Khomas-streek het Windhoekers, veral dié in informele nedersettings, versoek om met die polisie saam te werk en misdade stiptelik aan te meld. Daar was die afgelope weke ‘n merkbare toename in misdaad in die hoofstad. Inwoners het frustrasie uitgespreek oor toenemende voorvalle van diefstal en geweld, en dring aan op verhoogde polisieteenwoordigheid en -toepassing om kriminele aktiwiteite hok te slaan. Inspekteur-generaal Joseph Shikongo sê hulle sal geen kompromie aangaan in die hantering van misdadigers in die samelewing nie, ongeag openbare mening. Shikongo het gepraat tydens ‘n mediabespreking en uitstalling van gekonfiskeerde items in Otjomuise.