Nampol jaag vermeende stroper in

‘n 43-jarige verdagte sal na verwagting Dinsdag in die hof op Omaruru verskyn op klagte van stropery. Plaaslike media berig dat die man blykbaar twee koedoes op munisipale grond gejag het. Inspekteur Ileni Shapumba van die Erongo-polisie sê die man het geweier om te stop by ‘n tydelike padblokkade op die roete na Otjimbingwe en die polisie is genoodsaak om waarskuwingskote af te vuur en moes die motor najaag tot verby Karibib. Hy is uitendelik naby die Swakoprivier voorgekeer en die karkasse is in sy motor, wat geskud is, gevind.