Namibiese span nog sonder sportdrag

’n Vertraging in betaling deur die Namibiese sportministerie aan ’n plaaslike sportdraghandelaar het daartoe gelei dat Span Namibië sonder amptelike drag na die Afrika-unie Sportraad Streek 5 Spele gereis het. Die 10de Streek 5 Spele vind van 2 tot 11 Desember 2022 in Lilongwe, Malawi plaas, met 10 Suider-Afrikaanse lande wat in 12 sportkodes meeding. Namibië se span van 70 atlete en 32 beamptes het verlede Saterdag in verskillende groepe na Malawi begin vertrek en moes Woensdag sonder hul nasionale kleure ‘n verwelkomingseremonie bywoon wat deur die Malawiese reëlingskomitee gereël is. Jo-ann Manuel, direkteur van sport, sê hulle is hoopvol dat die drag aan hulle afgelewer sal word voor die openingseremonie môre. Sy sê die verskaffer is eers op 27 November betaal en hy het toe Indië toe gevlieg om die drag te kry. Hy het glo alles behalwe skoene gekry. Aktivis, Michael Amushelelo het met skok aan Kosmos 94.1 Nuus gereageer en gesê die tendens van korrupsie moet stop.