Namibiese presidensie reageer op Ramaphosa-sage

Die lasterlike bewerings wat oor Namibiese President Hage Geingob gemaak word oor die diefstal van geld by Suid-Afrikaanse President Cyril Ramaphosa se plaas, is verregaande, lui ‘n mediaverklaring van die presidensie. Die presidensie sê daar is absoluut geen waarheid in die bewerings dat Geingob sy amp onbehoorlik gebruik het om Ramaphosa by te staan nie. Arthur Fraser se verklaring dui ook nie daarop dat Geingob op enige manier buitelanders bygestaan het in die ontvoering en marteling van enige persoon, soos kwaadwillig en roekeloos deur sekere individue in Namibië en Suid-Afrika beweer word nie, lui die verklaring. Die presidensie vind die polities gemotiveerde uitsprake deur sommige politieke leiers in Suid-Afrika, dat ‘n kriminele ondersoek teen die President van Namibië gedoen word, absurd en heeltemal onsinnig. Eneas Emvula, nasionale woordvoerder van die Landless People’s Movement, het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê daar moet ‘n hofproses toegelaat word om die situasie in dié verband te bepaal.