Namibiese lugmag vier 19de bestaansjaar

Die bevelvoerder van die Namibiese lugmag, vise-maarskalk, Teofilus Shaende, het hom verbind tot intensiewe opleiding van die lugmag om dit in staat te stel om die regering te ondersteun in operasies soos teen-stropery. Shaende het by die viering van die Namibiese lugmag se 19de bestaansjaar by Karibib gesê die lugmag moet 24 uur per dag oefen om gereed te wees om die Namibiese weermag, vloot en ander departemente van die regering te ondersteun. Hy sê die lugmag het operasionele sukses behaal in teenstropery-missies in die nasionale  parke in die Noordooste waar hulle ontplooi is. Shaende sê dit kom egter ongelukkig in die nasleep van die toenemende stropery in die Etosha Nasionale Park waar 11 swartrenosterkarkasse gevind is.