Namibiër wat kokaïen smokkel was onder finansiële druk

Daar is meer inligting bekend oor die 30-jarige Namibiese vrou wat Sondag in Johannesburg aangekeer is met kokaïen in haar maag. Die Namibiese polisie het bevestig dat hulle eweknieë in die buurland sê sy het 68 pakkies, sowat 850 gram, teen Maandagaand uitgeskei en X-strale toon sy is nou skoon. Sy na verwagting môre in die Kemptonpark-landdroshof verskyn. Intussen berig die dagblad Namibian Sun dat sy vanaf Luanda na Brasilië met haar Nigeriese minnaar gereis het en hy het haar blykbaar oortuig om die dwelms te smokkel. Die koerant sê verder dat dit bekend is dat sy onlangs finansieel swaargekry het.