Namibië, Tanzanië bevorder handelsverhoudinge
Namibië en Tanzanië beplan om bilaterale verhouding te verstewig met ‘n fokus op samewerking in landbou, toerisme en visserye. Die twee lande het ‘n Beleggings- en Handelsforum in Windhoek byeengeroep. Die forum word aangebied deur die Nasionale Beleggingsbevordering-ontwikkelingsraad, NIPDB, in samewerking met die Hoë Kommissaris van die Verenigde Republiek van Tanzanië in Namibië. Van 2019 tot 2023 was Namibië se invoer uit Tanzanië hoofsaaklik in die landbousektor. In 2021 het invoere uit Tanzanië sowat 61 miljoen Namibiese dollar beloop, terwyl dit 2022 en verlede jaar gemiddeld sowat 55 miljoen was. Namibië se uitvoere na die land is egter laag en het verlede jaar onder 15 miljoen dollar beloop. Die raad se bestuurder van beleggingsaantrekking, Selma Namutuwa, sê die forum wil die wanbalans in handel aanspreek.