Namibië en Botswana voer gesamentlike militêre oefening in Omaheke uit
‘n Gesamentlike militêre oefening tussen die weermagte van Namibië en Botswana, Hanganee die tweede, sal van 15 Junie tot 30 Junie by Gobabis uitgevoer word vir vredes-ondersteunings-operasies in die SAOG-streek. Ongeveer 1 000 troepe van Namibië en Botswana sal gedurende hierdie tyd tydelik na verskeie plekke in Omaheke-streek ontplooi word. Brigadier-generaal Fillemon Shafashike van die NDF het gemeenskappe wat in die gebied woon, versoek om nie paniekerig te raak nie, aangesien daar bewegings van troepe en militêre toerusting sal wees en dat geweerskote en ontploffings gehoor sal word aangesien die soldate verskillende noodsituasies sal simuleer. Hy het verseker dat geen lewendige ammunisie tydens die oefeninge gebruik sal word nie.