Nadal onttrek uit Franse Ope, tree na ’24 af

Die 14-malige kampioen, Rafael Nadal, sê sy lyf het die besluit geneem om aan vanjaar se Franse Ope te onttrek. Die 22-malige Grand Slam-wenner het gister aangekondig hy sal nie vanjaar sy titel in Parys kan verdedig nie. Dit sal die eerste keer in 19 jaar wees dat die Kleikoning nie in die tweede Grand Slam-toernooi van die jaar kan speel nie. Die 36-jarige Nadal sê die heupbesering wat hy in Januarie tydens die Australiese Ope opgedoen het, het nog nie die wyk geneem nie, en hy verwag om volgende jaar uit te tree.