N$20m op geslotekring-kameras oor bedrog, korrupsie by NaTIS
Die Paaie-owerheid het byna 20 miljoen Namibiese dollar bestee aan die installering van geslotekringtelevisie-kameras by sy NaTIS-kantore landwyd in ‘n poging om bedrog hok te slaan. Volgens Hileni Fillemon, die owerheid se korporatiewe kommunikasiebestuurder, is sowat tien gevalle van bedrog en korrupsie oor die afgelope drie jaar by NaTIS-kantore landwyd geregistreer, met Khomas wat die hoogste aantal omkoperysake aangeteken het. NaTIS het sowat 370 werknemers, en sommige is deur lede van die publiek van bedrog en korrupsie beskuldig. Daar word beweer dat sommige amptenare omkopery prioritiseer bo die lewering van dienste soos van hulle verwag word. Fillemon sê NaTIS word uitgedaag deur ‘n ernstige probleem van individue wat rondhang en middelmanne speel, wat betrokke is by die meeste van die omkopery-sake by sy kantore. Sy beklemtoon dat ingrypings om van die middelmanne ontslae te raak, nutteloos was, aangesien hulle deel is van sindikate.