N$157m nodig vir gemarginaliseerde Namibiërs

Namibië se gemarginaliseerde gemeenskappe benodig 157 miljoen Namibiese dollar om honger en wanvoeding in die komende paar maande te verlig. Die adjunkminister vir gemarginaliseerde gemeenskappe in die ministerie van geslagsgelykheid Royal /Ui/o/oo, sê die ministerie sukkel om sy jaarlikse voedingsprogram, onderwys en die oorskakeling van inkomste toelaag na te kom. Hy sê die voedingsprogram was nog altyd onderbefonds, en die huidige tekort om die jaarlikse voedingsteiken te haal staan op meer as 157 miljoen dollar om voedsel oor die volgende agt maande te kan voorsien. Die San, Ovatue en Ovatjimba, steier onder 77 persent werkloosheid en 68 persent armoede. Wanvoeding onder kinders kom ook algemeen voor. Hy sê op die stadium is dit onmoontlik om volgens die tweede Harambee-welvaartsplan die oorskakeling te doen van voedselbankskenkings tot die kontant-toelaag.