‘n Antieke muntversameling ter waarde van US$72m is op veiling na 100 jaar van geheimhouding

Foto: James Brooks

Een van die waardevolste muntversamelings in private besit word later vanjaar opgeveil nadat dit vir meer as ‘n eeu geheim gehou is.

Die versameling het eens aan die Deense sakeman Lars Emil Bruun behoort, wat dekades spandeer het om die byna 20 000 munte, banknote en medaljes te versamel. Vir meer as ’n eeu was die versameling uit die publieke oog gehou weens ’n bepaling in Bruun se testament wat verbied het dat die munte verkoop word vir ’n eeu ná sy dood in 1923 op 71.

Die Eerste Wêreldoorlog was vir Bruun baie emosioneel gewees en daarom het hy besluit dat die versameling as rugsteunreserwes vir Denemarke gehou moet word sou ‘n tweede oorlog Europa verwoes.

Die versameling is na raming tot US$72 miljoen (sowat N$1,3 miljard) werd, wat dit die waardevolste muntversameling maak wat nog ooit te koop aangebied is, volgens Stack’s Bowers, die New Yorkse seldsame munthandelaar en veilingshuis wat toesig hou oor die verkoping. Die opbrengs van die verkope gaan aan Bruun se erfgename.

Bruun het in die 1850’s en 1860’s as kind begin munte versamel, lank voordat hy miljoene gemaak het deur botter na Engeland en ander lande uit te voer. Sy groot rykdom het hom in later jare toegelaat om voort te gaan met sy muntstokperdjie. Bruun het aanvanklik sy versameling by Frederiksborg-kasteel gehou, die voormalige koninklike woning noord van Kopenhagen, maar dit is later na die Deense Sentrale Bank verskuif.

Sedert 2011 is die versameling egter op ‘n geheime plek aangehou, waarvan selfs muntentoesiaste in die duister is.