MUN bekommerd oor afleggings by Rössing Uranium

Die Mynwerkers-unie van Namibië se westelike streekstak het kommer uitgespreek oor planne deur die Rössing Uranium om 400 werknemers deur ‘n vrywillige skeidingsproses te laat gaan. Hierdie proses wat in Februarie aangekondig is, volg op die onthulling van die lewensduur van die myn wat verleng is van 2026 tot 2036. Die vakbond se tak-voorsitter, Phillipus Ampweya, het gesê die vrywillige skeidingsproses is ‘n verbloemde afleggingsproses. Johan Coetzee, besturende direkteur van Rössing, het gesê werknemers word nie afgelê nie, maar die aanbevole bedryfsmodel sal egter ‘n impak hê op sommige van die rolle ná 2027. Die maatskappy hou vol dat verpligte afleggings eers in 2027 in die vooruitsig gestel word.