Mulunga vrygespreek in dissiplinêre verhoor
Die Engelse dagblad Namibian Sun berig dat ‘n onafhanklike dissiplinêre verhoor teen die geskorste Namcor-besturende direkteur, Imms Mulunga, hom onskuldig bevind op beide aanklagte waarop hy tereggestaan het, naamlik bedrog en dienskontrakbreuk. Die klagtes het betrekking op die oordrag van 123 miljoen Namibiese dollar van ‘n Namcor-rekening na Sungara Energies, ‘n maatskappy wat Namcor en twee ander vennote gesamentlik besit. Die geld is aan Sungara betaal as deel van die gesamentlike onderneming se plan om in te koop in ‘n olieblok wat deur die Angolese staatsoliemaatskappy Sonangol besit word. Die verhoor is gelei deur die voormalige appèlregter van die hooggeregshof, Gerhard Maritz, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat Namcor versuim het om te bewys dat Mulunga se optrede die maatskappy benadeel het. Mulunga is sedert April 2023 met volle betaling geskors. Die Namcor-direksie wat hom geskors het, het onlangs die maatskappy verlaat, nadat sy ampstermyn geëindig het.