Mulundu vertel hoe hy Wasserfall se lyk in sy suster se bakkie geplaas het

Die moordverhoor van Steven Mulundu en sy suster Azaan Madisia duur voort. Mulundu, wat tans in die getuiebank is, sê hy het sy suster, aangemoedig om die polisie te ontbied ná die dood van Shannon Wasserfall. Hy sê Madisia was huiwerig om die polisie te skakel omdat sy bang was om in hegtenis geneem te word. Tydens kruisondervraging deur sy regshulpprokureur, Tanya Klazen, het Mulundu gesê hy het voorgestel om eerder ‘n ambulans te ontbied. Madisia het glo geantwoord dat daar “baie vrae sou wees”. Daarna het hy haar gehelp om Wasserfall se lyk in haar werksbakkie te sit om dit te verwyder. Wasserfall is op 10 April 2020 op Walvisbaai as vermis aangemeld en haar oorskot is op 6 Oktober by die hawedorp gevind nadat ‘n anonieme teksboodskap aan Wasserfall se pa gestuur is. Regter Christie Liebenberg hoor die saak, wat vanoggend tien-uur hervat, aan.