Motinga blykbaar sat vir politieke inmenging by NamPower

Plaaslike berigte lui dat die bekende ekonoom, Daniel Motinga, dreig om as voorsitter van NamPower se raad te bedank indien politieke inmenging in die bestuur van die maatskappy nie end kry nie. Die Engelse dagblad The Namibian berig dat die kwessie handel oor die beurtkrag wat die maatskappy toegepas het op munisipaliteite. Die kabinet het opdrag gegee dat die maatskappy dit nie toepas nie maar, NamPower, met ‘n miljard Namibiese dollar in skuld, het blykbaar die opdrag geïgnoreer en voortgegaan tot finansminister Ipumbu Shiimi met die raad vergader het. Motinga het blykbaar reeds Maandag sy bedanking ingedien maar dit is nie duidelik of dit aanvaar is of nie. Nie Motinga nog die finansministerie wou kommentaar lewer nie.