Moses Garoeb-kiesafdeling ‘het nie genoeg skole vir leerders’
Ouers en voogde in Windhoek se Moses Garoeb-kiesafdeling kla oor beperkte plek in skole, veral vir graad 1-leerders. Die kiesafdeling het slegs vier laerskole en twee sekondêre skole vir sy bevolking van 90 000 tot 100 000 inwoners. Die skoolhoof van Moses Garoeb Laerskool, Judith Sepiso, sê ouers het na die skool gestroom op soek na plek, maar weens beperkte spasie is baie kinders weggewys. Sy sê die skool het net plek vir 1 400 leerders, wat beteken elke onderwyser het sowat 40 leerders in hul klas, terwyl die ministerie se onderwyser-leerder-verhouding 35 leerders is vir graad 1 tot 4. Sy ondersteun oproepe dat meer skole in die area gebou moet word.