Moordverdagte van joernalis Jamal Kashoggi in Parys vasgetrek

Franse polisie het ‘n verdagte vasgetrek in verband met die moord op die Saoediese joernalis, Jamal Khashoggi. Die verdagte is gister by die Charles de Gaulle-lughawe in Parys gearresteer. Khashoggi, wat uitgesproke kritiek gelewer het teen Saoedi-Arabië se kroonprins, is in 2018 in die Saoediese konsulaat in Istanboel vermoor. Die verdagte, Khalid Aedh al-Otaibi, is volgens berigte een van 26 Saoediërs wat in Turkye weens die moord gesoek word. Die Saoedi-ambassade in Parys sê die inhegtenisneming is ‘n geval van foutiewe identifikasie aangesien dié wat aan die misdaad skuldig bevind is, tans hulle vonnis uitdien.