Moordverdagte gee homself oor ná sy vlugtog

Die sesde verdagte wat saam met vyf ander mans daarvan beskuldig word dat hulle die Windhoekse inwoner Patrick Hamupanda wreed vermoor het, het homself vandag aan die Namibiese polisie oorgegee. Volgens die hoofwoordvoerder van Nampol, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi, sal Wilhelm Modestus, bekend as Lavas, môre in die Katutura-landdroshof op ‘n moordklag verskyn, nadat hy homself vanoggend aan beamptes van die ernstige misdaad-eenheid oorgegee het. Sy medebeskuldigdes, Lukas Simon, Festus Nehemia, Lukas en Kleipas Amutenya en Felix Imusi, is verlede Dinsdag in hegtenis geneem ná ‘n intensiewe soektog deur Nampol. Hulle het voor landdros Johannes Shuuveni verskyn wat hulle borgtog geweier het. Hul saak is tot 28 September uitgestel sodat hulle regsverteenwoordiging kan verkry.