Moordbeskuldigde ‘Lavas’ borgtog geweier

Die sesde beskuldigde wat saam met vyf ander mans daarvan beskuldig word dat hulle die Windhoekse inwoner Patrick Hamupanda wreed op 13 Augustus vermoor het, is borgtog in die Katutura-landdroshof geweier. Wilhelm Modestus, bekend as Lavas, het hom Maandag aan die Namibiese polisie oorgegee nadat hy voortvlugtig was. Hy het vandag voor landdros Johannes Shuuveni op ‘n moordklag in die hof verskyn, asook ‘n bykomende klag van huisbraak. Modestus het aangedui dat hy deur ‘n privaat prokureur verteenwoordig sal word. Sy vyf medebeskuldigdes is verlede Dinsdag in hegtenis geneem ná ‘n intensiewe soektog deur die Nampol en is ook borgtog geweier. Hul saak is tot 28 September uitgestel vir verdere polisieondersoek.