Mnangagwa probeer soos Putin maak met Zim-dollar
Zimbabwe se President Emmerson Mnangagwa probeer die Russiese President Vladimir Putin na te aap in sy poging om Afrika se swakste presterende geldeenheid te laat herleef. Sy administrasie sal moontlik reeds vandeesweek planne aankondig vir staatsdepartemente in Zimbabwe om voorkeur vir die Zimbabwiese dollar in die betaling van dienste te toon. Rusland verkoop op die oomblik sy gas en olie net in roebel en dit werk in sommige gevalle, maar Zimbabwe se pogings om sy afhanklikheid van die Amerikaanse dollar af te skud, kan moeiliker wees. Die Amerikaanse geldeenheid word gebruik om vir byna alles van kos tot brandstof, medisyne en tolfooie te betaal. Onder die nuwe maatreëls sal betaling met die Zim-dollar benut moet word vir die dienste, insluitend die verkryging van paspoorte, die betaling van invoerregte en belasting.