Minuut stilte voor UEFA-wedstryde vir Spaanse vloede

Sokker: Die Europese beheerliggaam, UEFA, sê daar sal ‘n minuut stilte gehandhaaf word, voor die begin van hierdie week se klubwedstryde, na verlede week se dodelike vloede in Valencia, Spanje. Meer as 200 mense is dood toe die streek binne agt ure meer as ‘n jaar se totale reënval gemeet het. Wedstryde in die Kampioeneliga word vandag en môre gespeel, en wedstryde in die Europaliga en Konferensieliga Donderdag. Die Spaanse span, Barcelona, het vroeër aangekondig spelers se truie gaan opgeveil word om geld vir die slagoffers in te samel.