Ministerie wil Etosha se paaie teer, as oplossing… maar vanwaar kom die geld?

Daar word berig dat die uitvoerende direkteur van die ministerie van omgewing en toerisme, Teofilus Nghitilia meen dat daar besluit is om van die paaie in Etosha Nasionale Park te teer. Dit sal volgens hom ‘n permanente oplossing wees vir die swak toestand van die grondpaaie wat nie onderhou word nie en gereeld klagtes uitlok van besoekers. Volgens die berigte sal die opgradering van die roetes teen ‘n koste van 160 miljoen Namibiese dollar uitgevoer word. Die park het 229 kilometer se paaie. Kosmos 94.1 Nuus verneem dit kos tussen 5 en 8 miljoen dollar om ‘n grondpad te teer, per kilometer. Die ministerie het reeds finansiële uitdagings met byvoorbeeld die heining van die nasionale park wat op verskeie plekke uitmekaar val en die Paaie-owerheid sukkel ook, veral met brandstofheffings wat opgehef is. Begrotingsuitdagings kom oral in die regering voor so dit is nie bekend waar die ministerie die geld sal kry nie, en wanneer die werk uitgevoer sal word nie, indien ooit.