Ministerie werk aan stabilisering van brandstofprys

Die Namibiese regering ondersoek versagtingsmaatreëls aangesien meer olieprysstygings verwag word weens die voortdurende geo-politieke spanning tussen Rusland en die Oekraïne. Op 1 Maart het die land die grootste brandstoftoename ooit beleef met ‘n styging van 1 dollar 20 vir petrol en 1 dollar 30 vir diesel. Die ministerie van myne en energie se skakelbeampte, Andreas Simon, het gesê Namibiërs moet ‘n verdere brandstoftoename verwag, maar die regering ondersoek deur die Nasionale Energiefonds alle maatreëls om die pompprys te stabiliseer in ‘n poging om die las op die verbruikers te verlig.