Min rus vir Haaie na Curriebeker-oorwinning

In rugbynuus het die stof na sy triomfantelike Curriebeker-veldtog nog nie behoorlik gaan lê nie, en die Haaie moes reeds die fokus verskuif na die Verenigde Rugbykampioenskap wat hierdie naweek vir Suid-Afrikaanse spanne afskop. Die Durbanse span het gister vertrek om Saterdag met hulle veldtog teen Connacht in Ierland te begin, voor hulle na Wallis reis om teen die Dragons te speel. Daarna gaan hulle na Italië vir ʼn wedstryd teen Benetton. Afrigter John Plumtree het ʼn groep van 27 aangekondig onder aanvoering van losvoorspeler, Vincent Tshituka.