Miljoene vir toeskouers en meer, maar geen sokkerstadion wat werk nie?

Dit kos die regering, en dus die belastingbetaler, tussen 600 000 en 700 000 Namibiese dollar om ses van die Namibiese Sokkervereniging se uitvoerende raadslede na die Afrikabeker-toernooi, wat Saterdag in die Ivoorkus begin het, te neem. Hierdie fondse kom uit die bykomende 6 miljoen dollar waarvoor die vereniging gevra het, bo en behalwe ‘n aanvanklike 7,4 miljoen dollar wat aan die Brave Warriors toegeken is vir hul deelname aan die pronkstuk. Kosmos 94.1 Nuus het met aktivis en NEFF-lid Michael Amushelelo gepraat, wat sê dat die land nie funksionele sokkerstadions het nie, maar soveel geld word spandeer op toeskouers by ‘n toernooi.