Miljoene Nigeriërs onder aandklokreël
Miljoene inwoners in die noorde van Nigerië is onder ‘n 24-uur aandklokreël geplaas te midde van landwye betogings teen die hoë lewenskoste. Inwoners van die state van Kano, Jigawa, Yobe en Katsina is beveel om nie hul huise te verlaat nie en dus nie betogings by te woon nie. Die owerhede sê die aandklokreël is nodig omdat “boewe” die betogings gekaap het om eiendomme te plunder en te vandaliseer. Daar is ‘n groot sekuriteitsteenwoordigheid regoor die land met nog nege “dae van woede” wat deur die beweging se organiseerders geskeduleer is.