Mickey Mouse se kopiereg verval, gruwelfliek reeds gemaak

’n Voorskou vir ’n sogenaamde slasher-rolprent, met ’n gemaskerde moordenaar geklee as Mickey Mouse, is op 1 Januarie vrygestel, die dag toe Disney se kopiereg op die vroegste weergawes van Mickey Mouse in die VSA verval het. Omdat Amerikaanse wetgewing net toelaat dat kopiereg vir 95 jaar gehou word, het Disney se enigste aanspraak op die karakter amptelik tot ‘n einde gekom. En dit is nie net Mickey Mouse wat mense kan gebruik nie, maar al die karakters in Steamboat Willie, insluitend die eerste weergawe van Minnie Mouse. In die gruwelfliek, ‘n riller-komedie, word ‘n jong vrou ‘n verrassingspartytjie vir haar verjaardag gegooi  maar dinge neem vinnig ‘n lelike draai wanneer sy en haar vriende ‘n mesmoordenaar in ‘n Mickey-kostuum teëkom. Die rolprent se naam is Mickey’s Mouse Trap.