Mianmar-weermag sê hy het nie burgerlikes gedood nie

Die weermag in Mianmar het aanspreeklikheid aanvaar vir Dinsdag se noodlottige lugaanval, maar ontken dat burgerlikes in die voorval gesterf het. Hy beweer hy het terroriste geteiken. Nagenoeg 100 mense, insluitend vroue en kinders, is dood toe die militêre junta die Kant Balu-woonbuurt in die Sagaing-streek aangeval het. Duisende mense is in Mianmar dood sedert die junta in 2021 tydens ‘n staatsgreep die mag oorgeneem het. Die Verenigde Nasies se gesant oor menseregte in Mianmar, Tom Andrews, sê die voortgesette militêre aanvalle op onskuldige mense word moontlik gemaak deur die wêreld se onverskillige houding en dié lande wat Mianmar van wapens voorsien.