Metcalfe verheug oor hersiening van reël 108-bepaling
Reaksie word ontvang op die justisie-minister Yvonne Dausab wat die week twee wysigingswetsontwerpe in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê het wat veranderinge aan reël 108 sal aanbring. Die reël laat regters toe om in die hoërhof bevele uit te reik dat banke beslag op eiendom kan lê en verkoop om uitstaande skuld te delg. Sou dit deurgevoer word sal eienaars van eiendomme eers kans gegun word om hul eiendom te verkoop indien daar wanbetaling plaasvind. Daar is ook bepalings om eiendom, as dit die primêre woning van die debiteur is, te beskerm. Howe sal verskeie opsies in die verband hê. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met die plaaslike prokureur Richard Metcalfe, wat lank reeds teen reël 108 kapsie gemaak het, wat verheug is oor die nuus.