Menstruasie-vriendelike skole: Wat help dit as wetgewers dit nie wil bespreek nie?

Die adjunk-gesondheidsminister, Ester Muinjangue, het ‘n beroep gedoen vir ‘n menstruasie-vriendelike onderwysstelsel. Die tekort aan sanitêre doekies vir vroulike leerders is reeds jare plaaslik in die nuus met duisende wat eenvoudig nie die produk kan bekostig nie en dus, van die skool af wegbly. Die grootste uitdaging is die taboe wat gesprekke rondom menstruasie inhou, veral in tradisionele gebiede, waar die grootste tekorte voorkom. Terwyl sanitêre doekies nou belastingvry is, was daar groot uitdagings in die verband. So ver terug as 2016, het die PDM-president McHenry Venaani ‘n mosie in die parlement ter tafel gelê om die kwessie te bespreek. Dié wat geweier het was vroulike LP’s – onder andere, die adjunk-speaker Loide Kasingo, sowel as die destydse adjunk-minister van kinderwelsyn, Lucia Witbooi, en die eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila. Die manslede was bereid om die mosie te bespreek. Die opheffing van belasting is uiteindelik sonder die Nasionale Vergadering deur finansminister Ipumbu Shiimi deurgevoer.