Meer SA leerders deur onderwysers seksueel misbruik

Die aantal Suid-Afrikaanse skoolkinders wat seksueel deur onderwysers misbruik word, is besig om kommerwekkend toe te neem. Volgens statistieke deur die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders is daar in die 2021/2022 finansiële jaar meer as 190 gevalle van seksuele misdade aangemeld wat gepleeg is deur opvoeders by die land se skole. Die minister van basiese onderwys Angie Motshekga het gesê dat daar oor die afgelope drie jaar byna 30 onderwysers vir die tipe oortreding afgedank is.