Meer as N$4 miljard vir vervoer-infrastruktuur begroot

Altesaam 4,2 miljard Namibiese dollar is vir die boekjaar 2023-24 en 13,1 miljard dollar in die middel-termyn begroting aan infrastruktuur-ontwikkeling toegeken, het die adjunkminister van finansies, Maureen Hinda-Mbuende, by die African Road Maintenance Fund Association se presidensiële oorhandiging-seremonie in Swakopmund gesê. Dit is hoofsaaklik vir die voltooiing van deurlopende fases van padbou-projekte met kontraktuele toekennings. Dit sluit in die finalisering van die Windhoek-Okahandja-dubbelbaan se tweede fase, die Swakopmund-Hentiesbaai-Uis-Kamanjab-pad en die voltooiing van fase een van die Windhoek-Hosea Kutako-lughawepad, asook opgraderings aan die Walvisbaai-Kranzberg-spoorlyn. ‘n Bykomende 1,5 miljard dollar is ook deur die Padfonds-administrasie toegeken om voorsiening te maak vir pad-instandhouding, rehabilitasie van paaie in Walvisbaai en die hergruis van paaie in die Etosha Nasionale Park.