Mededingingskommissie vat Swakopmund-afvalbestuur aan

Die Namibiese Mededingingskommissie het bevind dat die Swakopmund munisipaliteit, Rent-A-Drum en die Finse maatskappy Molok se samewerking ‘n nadelige uitwerking op mededinging het. Die munisipaliteit maak uitsluitlik van Molok se diep-afvalversamelingstelsel gebruik. Hy vra ook verskaffers spesifiek vir die Molok-sakke, wat slegs van Rent-A-Drum verkry kan word. Die kommissie sê die munisipaliteit het ‘n produk bekendgestel wat slegs deur ‘n enkele maatskappy verskaf word, wat ook alleen verantwoordelik is vir die instandhouding daarvan. Molok het ook Rent-A-Drum as hul enigste verspreider in Namibië aangestel. Die kommissie sê ‘n finale besluit is nog nie geneem nie en die partye kan mondelinge of skriftelike vertoë rig om die saak te probeer skik.