Meatco kry uiteindelik nuwe raad
Die kabinet het die aanstelling van Meatco se nuwe raad van direkteure goedgekeur, wat sal dien vir drie jaar vanaf 1 Julie vanjaar tot 30 Junie 2027. Sakaria Nghikembua bly aan as voorsitter en Stephanie de Klerk is die ondervoorsitter. Die kabinet het die finansministerie saam met die landbouministerie opdrag gegee om te verseker dat die raad prysgelykstelling tussen noord van die kordonheining, of rooilyn, en suid van die heining implementeer. Besigheidskontinuïteit en die omkeerstrategie moet geïmplementeer word, asook kommoditeitsgebaseerde handel. Die landbouministerie is opdrag gegee om ‘n vroulike lid te nomineer om op die raad te dien, ten einde geslagsbalans te verseker.