Mauritius verhoog sikloonwaarskuwing na hoogste vlak

Die regering van Mauritius het sy sikloonwaarskuwing tot die maksimum vlak verhoog namate die Tropiese Storm Belal kragtige wind en swaar reën na die eilandnasie bring. Eerste minister Pravind Kumar Jugnauth het ʼn bevel uitgereik om binnenshuis te bly. Verskeie vlugte wat vir vandag geskeduleer was, insluitende na Frankryk en Suid-Afrika, is gekanselleer. Die Meteorologiese Diens berig die storm beweeg ooswaarts weg van die eiland af. Belal het wydverspreide kragonderbrekings veroorsaak met verskeie voertuie onder water of gestrand weens swaar reën. Sikloon Belal het reeds by die nabygeleë Réunion aangekom en minstens een persoon is dood.