Massabegrafnis môre vir 45 busongeluk-slagoffers
Botswana is besig met die finale reëlings vir die massabegrafnis van 45 Botswana-pelgrims wat op pad na die Zion Christian Church in Moria in ‘n busongeluk dood is. Die begrafnis, wat vroeg môre-oggend by die Garanta-begraafplaas in Molepolole plaasvind, sal voorafgegaan word deur ‘n diens by die Molepolole-sportstadion. Die minister in die kantoor van Botswana se Staatspresident, Kabo Morwaeng, sê die liggame van die slagoffers sal in verseëlde kiste begrawe word, sonder vooraf-besigtiging.