Mariental-gemeenskap soek geregtigheid vir wyle Hendrina

Die gemeenskap van Mariental het vandag ’n vreedsame optog gehou vir geregtigheid om te geskied vir die nege-jarige wyle Hendrina Mupolo. Mupolo, haar ma en ander mense is op plot K11 by die Hardapskema betrap toe hulle glo op ’n boer se lande bone geoes het. Na bewering het die boer, Johan Meyer, haar met sy voertuig omgery en sy is later in die hospitaal aan haar beserings dood. Meyer het op ‘n klag van strafbare manslag in die landdroshof op die dorp verskyn en is op borgtog van 3 000 Namibiese dollar vrygelaat. Die waarnemende streeksbevelvoerder van die Namibiese polisie in Hardap-streek, adjunk-kommissaris Jason Hatutale, het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die publiek was kwaad, maar die protesoptog het vreedsaam verloop.