Marén de Klerk se borgaansoek in die Paarl is tot Woensdag uitgestel

Die omstrede prokureur Marén de Klerk se borgtogaansoek is tot Woensdag in die Paarl-landdroshof uitgestel vir die staat om borgtog teen te staan. Hy het vandag sy tweede hofverskyning gemaak nadat hy verlede week Donderdag in hegtenis geneem is. Dit volg na die Namibiese minister van justisie, Yvonne Dausab in Mei verlede jaar sy uitlewering amptelik versoek het. De Klerk word deur die Namibiese regering gesoek vir korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery. In 2022 het die Paarl-landdroshof ’n lasbrief vir inhegtenisneming vir De Klerk uitgereik, wat gevolg is deur die publikasie van ’n rooi kennisgewing deur Interpol. Die staat was na bewering nie vandag gereed om borgtog teen te staan nie.