Maree wend hom aan die hoërhof vir borg

Die vermeende pedofiel en voormalige polisieman, Johann Maree gaan hom aan die hoërhof wend om borg te kry. Sy aansoek sal op 20 Mei voor regter Kobus Miller voorkom. Plaaslike media berig dat hy meen landdros Celma Amadhila fouteer het omdat sy beslis het die staat kan wel sy saak teen hom bewys en verder, dat hy sal vlug sou hy borg ontvang. Maree se saak is onlangs oorgedra na die hoërhof en hy sal in ‘n voorverhoor verskyn op 21 Julie. Hy staar 75 klagte in die gesig. Die 50-jarige Maree is in 2020 in hegtenis geneem op klagte dat hy agt minderjarige seuns tussen 2016 en 2020 verkrag en onsedelik aangerand het. Onder die 75 klagtes is daar 24 van verkragting, tien van die vervaardiging van kinderpornografie, 18 van mensehandel en 13 van drank aan minderjariges verskaf. Hy het destyds in die hof gesê hy is ‘n privaatspeurder en fotograaf en dat hy ‘n modelagentskap vir seuns bedryf.