Maputo-hawe staak vrag-inname weens onrus

Die hawe van Maputo in Mosambiek het opgehou om vrag te aanvaar weens verkiesingsverwante onrus. Onluste op die land se hoofgrens met Suid-Afrika, Lebombo, het gelei tot die gedeeltelike sluiting en honderde vragmotors met goedere soos steenkool is nou gestrand. Spanning het die hoogte ingeskiet ná verlede maand se bestrede verkiesingsuitslag, wat versetoptrede veroorsaak het. Amptenare moes noodgedwonge oorkant die grens na skuiling soek. Die tydelike sluiting van die hawe, wat ‘n groot uitvoerroete vir chroom is, kan die ekonomie beïnvloed.